Swellendam Winterskool gaan n verrykende ervaring wees.


Die Swellendamse Winterskool is ‘n unieke konsep wat dié historiese dorpie van Mei tot Augustus in ‘n kampus omskep waarin mense ‘n wye verskeidenheid kursusse van ‘n dag tot ‘n week lank kan deurloop
terwyl hulle terselfdertyd die plaaslike ekonomie ‘n hupstoot gee.
Moet egter nie ‘n stywe akademiese aanslag verwag soos by die winterskole wat vir matrieks en die somerskole wat by sommige universiteite aangebied word nie. Die klem is eerder op ‘n aangename ervaring waardeur deelnemers hul kennis of vaardighede kan verbreed en ander kan leer ken.

Die kursusse word in vyf temas georganiseer: denke en liggaam, voedsel en wyn, natuur en erfenis, tuisvlyt en ontwerp en kreatiewe kunste.
Die lys is te lank om hier op te noem, maar na so ‘n kursus gaan jy nie net weet hoe om konfyt te kook en selfs jou eie bedryf te begin nie, maar jy gaan ook put uit die wysheid en filosofie van ‘n vakkundige wat in meeste gevalle ‘n leeftyd se ervaring op sy of haar gebied het. Dit is reeds die tweede jaar wat die winterskool gereël word, vertel John Paisley, SWS se direkteur. Verlede jaar het hulle net oor die 100 deelnemers gelok, vanjaar mik hulle vir 500 en die uiteindelike droom is dat hierdie attraksie duisende mense van oor die hele wêreld gaan lok na Swellendam, waar daar in die wintermaande bitter min aangaan. Die koste om ‘n kursus by te woon, beloop in meeste gevalle R850 per dag, wat koffie en tee asook middagete insluit. Verblyf en aandete is vir die kursusgangers se eie rekening, maar met die talle puik akkommodasieinstellings en restaurante op die dorp gaan dit nie moeilik wees om iets na jou smaak en sak te vind nie. Die Winterskool het ‘n persoon wat na hospitaliteit omsien en besoekers sal help. Die projek is as ‘n geloofsprong met geen borgskappe begin, maar die konsep het al reeds so stewig beslag gekry dat dit as ‘n groot gemeenskapspoging beskou word. Ongelooflike kundigheid en talent is onder die inwoners van die dorp gevind (en soms ook van buite die dorp) en met ‘n bietjie afronding onder John se hand uitstekende fasiliteerders van kursusse geword. Van hulle bied nou al kursusse in die buiteland aan. Vanjaar word daar interns – jong, werklose mense uit die gemeenskap – betrek om ook daar hoop en geleentheid te skep. Met die projek wat van krag tot krag gaan, is John die eerste om te meld dat dit nie sou gebeur het sonder die bystand en ondersteuning van sy span nie, almal mense wat hy daar ontmoet het toe hy hom so twee jaar gelede daar gevestig het. Dalk is dit te danke aan sy vernuf om as jare lange afrigter en mentor vermoë en potensiaal raak te sien en te laat groei.

Margie Walker is die programdirekteur, Saskia van Leeuwen doen die bemarking, Cathy van Eeden hanteer die sosiale media, Gloria Zimmerman bestuur die hospitaliteitsaspekte en Fridah Mutyambizi is verantwoordelik vir die rekeninge en webtuiste. Wanneer daar by ‘n vergadering op bepaalde aksies besluit word, doen elkeen sy taak en meer as verwag word om te verseker dat die Swellendamse Winterskool sy doelwitte gaan bereik. Meeste van die werk hang van eie inisiatief af, want sover die span kon vasstel is daar nie ‘n werkende voorbeeld van so ‘n winterskool in die res van die wêreld nie.

Besoek gerus die webtuiste www.winterschool.co.za en kom ondersteun ‘n ongelooflike inisiatief en groei, leer,ervaar en konnekteer. Meer inligting kan ook verkry word deur 078 778 5365 te skakel of ‘n e-pos aan admin@winterschool.co.za te stuur.